Wednesday, October 14, 2009

Nou ja, dit is tot hier toe....

'n Paar dae nadat Shaina die Hadida (Horrelpoot) so ontydig die tydige met die ewige laat verwissel het, speel 'n maatjie by Danté. Opgewonde en met harde gille, storm die maatjie die huis in "Kom gou! Daar is 'n baba voëltjie!" en dit terwyl Danté vir Shaina vaspen, beter as 'n rofstoeier op die grasperk, sodat sy nou nie die babavoëltjie kan gryp nie. Sy is mos nou die buurt se Voël Terminator! Traag stap ek uit want ek was nou nie lus vir kwaaijong streke van die twee nie. Sal daar sowaar 'n klein duifie tussen die rose sit en bewe!

Tel die toe maar op en gryp 'n leë roomys bak en voer die bodem uit met toiletpapier. Sit die grys bondeltjie ewe netjies daarin en so begin ons weer met pajama dril dinge. Danté doop hom "Whiskey" Nee, moenie vra nie. Ek sukkel om 'n halwe glasie wyn ordentlik weg te slaan, en ek dink nie ons het Whisky in die huis nie! Whiskey sukkel maar om te eet, en daar en dan gebruik ek toe maar 'n inspuiting gevul met Pronutro. Eers 4 keer 'n dag, toe drie en toe soos benodig ;-) Natuurlik raak mens lui, wie sou nie- dit is harde werk!

Whiskey was eers skreeu lelik, vol sagte haartjies wat nie geweet het waffer kant hulle moes staan nie. Dae het weke geword. Ek moes boetedoening doen vir die Terminator in die agterplaas. Elke dag getrou die duifie se roomys bak verskoon en elke dag kossies gegee. Wat was dit lekker om te sien hoe Whisky elke dag sterker en beter word. Hy vlieg heerlik rond in die huis maar die bliksem wil nie self eet nie. Wag tot ek aankom en dan wikkel hy sy vlerkies so vreeslik heen en weer en piep en rek sy nekkie met sy bekkie so GROOT oop. Vreet homself dan trommeldik en dan vlieg hy en poep net waaar hy wil. Vreugde vure het hoog gebrand toe Whiskey self begin pik en eet (Moet sê, ek het dit soort van aangehelp - wreedaard is ek nie?) Vir 'n paar dae moes ek hom so nudge in die regte rigting, en daarna eet hy soos 'n Pro! Whiskey is reg vir die buite lewe.

Daar is toe demokraties verkies dat Whiskey nog nie vrygelaat moet word nie. Ai! Gelukkig ook want toe reën dit en die wind waai vreeslik, en mens los nie jou "kindertjies" in die wind en weer vir hulle eerste vliegsessies buite nie. Whiskey sit wel elke dag buite in die tuin in sy hokkie en aanskou die ander gevogeltes wat rond vlieg of wat dit waag om naby sy hokkie te kom en van sy saadjies te steel. Elke dag sê hy ook aan die ander gevogeltes dat hy ook eendag vry sal wees. Nou, more is dit sy dag. Vanaand sal daar afskeid geneem moet word en foto's geneem moet word. More sal ek die hokkie se deur oop laat. More sal ek ook mooi vir hom die Leviete voor lees dat hy asseblief tog nie naby Shaina in die agtertuin moet gaan nie.

Dus nie Free Willie nie, maar Free Whiskey en dit beteken nie julle kan hier gratis whisky kry nie, nee. Free Whiskey!
--

No comments: