
Somtyds wonder mens waarheen jy oppad is.
Somtyds wonder mens of jy ooit oppad is.
Somtyds wonder mens of daar 'n pad is.....
Somtyds wonder mens maar net....
Die naweek was woes deurmekaar. Alles was in fast forward. Ek like niks van fast Forward nie. My skoene skop diep in 'n rem "mode" as ek fast froward gevoelens kry. Dieselfde skoene wil dan sommer die ou wat die fast forward gebeure in beweging sit 'n skop op die agter ent gee.
Die naweek begin toe mos waar ons Vrydag vir Anton Goosen sou gaan luister by Steak & Ale, maar die gebeur toe nie omdat die plek al reeds vol bespreek was toe gebel word. Ons sou toe 'n ander Show gaan luister by die LiedjieBoer in Midrand, maar die gebeur ook toe nie. Eintlik gelukkig want ek het geweet die naweek sou bitter besig wees en ek hou nie van besige naweke nie.
Vrydagaand reën toe ook nog. Daar moes vir David 'n kamera ge-salvage word, en 'n printer met kabels vir projekte op uni, en films vir die kamera. Die spesifieke kamera was in die studio en ek moes dit in die donderweer en bliksemslae gaan haal - in die donker boon-op. Toe moes ek al geweet het die naweek gaan glad nie volgens Susan se planne loop nie. Nee.
Saterdagoggend vroeg op. Daar word haastig reggemaak om betyds te wees om David se items vir hom in Pretoria te gaan aflaai. Ons sou 7uur vertrek, wat toe later 8uur geword het. By TUT aangekom, items afgelaai, moes David 'n crash course kry in film kamera tegnieke ens. David lyk goed, maar baie gefrustreed met die ontgroening. Ons groet weer haastig.
Oppad na die Pierneef teater besef ek dat ek honger is en nie geëet het nie. Digby die Pierneef Teater is daar gelukkig 'n eetplekkie en ons kon ontbyt nuttig. Heerlik verby. Maar dit was gou sluk en verteer jou kos eers later sake. By die Pierneef was dit helemaal ongemaklik ingerig. Die stoele was ietsies te naby aan mekaar, met geen verby loop spasie sou jy wou uitloop nie. Ons het agter gesit wat sekerlik beter was, maar daar was nie eintlik beweeg ruimte nie.
Om 10h00 begin die show. Lochner de Kock en Tossie Lochner wat gesels, grappies maak en kook. Dit was die eerste keer wat ek so iets bywoon en weet nie regtig wat ek daarvan dink nie. Nee, ek jok, ek het wel 'n paar sterk gedagtes daaroor met Gideon gewissel. Ons laat dit dan maar liewers daar.
Ek vind die tips wat Lochner so tussen deur sy aanbieding gegee het uiters bruikbaar en nuttig. En al was dit al wat ek daar weggeneem het, was dit dan ook die moeite werd.
Toe wil ons jaag om Gideon se kitaar vir reperasies in te handig, maar kom ook nie baie ver daarmee nie. 'n Oproep van Lochner laat ons omdraai. Ons sou die namiddag by Jahn en Carla gaan rugby kyk en braai. Min wetende dat die gaan gebeur op Lochner se eiendom. Dus kon ek nie eers huiswaarts keer om my effens meer gevat uit te dos nie, geen grimering aan my gesig nie en al ons proviant is nog tuis.
Om 'n kort storie lank te maak ;-) - Ons moes toe by die Spar in Melville proviant gaan koop. Braai vlies, koeldrank en drank.
Wat 'n mooi huis het Lochner nie. Ai en daar staan 'n moeviese groot eike boom in sy erf. Die huis het 'n wrap-around stoep, met sulke nice sterligte aan die stoepdak. net buite die voordeur is 'n tafeltjie met 2 stoeltjies waarop jare se drome gedroom kan word. Die mure is dik en stewig. Die venster rame is van hout en mens kan sien dat die onlangs gestroop is van verf wat iemand onverantwoordelik op die ou geelhout rame (dink ek)geverf het. Selfs die houtvloer is met wit verf vermoor. Maar ek is verseker dat die verf ook gaan afkom. Die plafon sit hoog met die allerfraaiste patrone. Hy het 2 boekrakke vol met kookboeke. Sekerlik meer as 'n 1000! Die kombuis is so cool! Dit blyk of dit eers 'n stoep was wat toegebou is want dit is 'n lang smal kombuis, met 'n klein spensie en outydse kaste. In die rakke en kaste pryk daar outydse borde en koppies. Aan die eenkant vand ie kombuis, amper weggesteek, pryk 'n groot silver gasstoof, en net so om die draai van die stoof is 'n kleinerige "inloop" yskas hoekie.
Jahn was op sy stukke en baie funny. Hy kan onderhoudend gesels oor alles en nog wat. Hy het selfs vir Dante laat skaterlag. Wat ek wel vreemd gevind het is dat die gasvroue net hallo ges^e het en dat ek hulle nie weer verder die dag gesien het nie.
Verrassing - Dorette en Rikku en klein Lea Lana Lee, daag toe ook op. Pragtige en vriendelike poppie, die Lea Lana Lee. Rikku is nie beskikbaar as daar rugby is nie. Hy raak ook vreeslik opgewonde as hy rugby kyk - Jahn ook ;-)
Wat het ek heerlik gekuier by Locher en aan sy lippe gehang oor al die staaltjies wat hy vertel, al die skerp uitlatings wat hy maak en sy humor wat deurslaan met elke vertelling. Gideon het ook heerlik saam gekuier. Maar op 'n stadium wou ek huistoe gaan.
Sondagoggend was ek moeg toe ek opstaan. Ek kon nie my oë oophou nie. Ek het die hond uitgelaat en weer gaan slaap. Tot 10uur!!!! Verpligtinge nagekom en om 1uur besluit ons dat ons winkels toe wou gaan. Ons het by Mike's Kitchen die allerheerlikste hamburgers en fluweelsagte dibbeldik melkskommels gehad. Dit is toe dat die pawpaw die fan strike! Die klein bietjie kos en melkskommel het my maag so trommeldik laat voel en staan. Ongemaklik verby. Net skielik. Dit kom nou van stadig eet en elke happie "savour" By die huis gekom en dadelik weer gaan slaap. Kon net nie anders nie. Ek was die heledag verder sommer net 'n zombie!
Vandag was uiters tros. Tros verby. My liggaam wou nie vandag in eerste rat kom nie. Ek wou soveel doen, en het nie! Ek kon FineArts doen en ek kon Redbubbel doen en ek kon Facbook doen en dit was dit. Nee, ek jok, ek het darem 2 ladings wasgoed ook gedoen!
Ek wonder net......somtyds of ek oppad erens heen was die naweek.
Ek wonder soms....
Ek weet nie