So ruk terug het ek om hulp geroep omdat 'n swerm bye in ons lendelam voëlhuisie kom afpak het. Was dit nie heerlik om te sien hoe die bye elke dag fluks werk om die ou huisie hul huis te maak nie. Hess gebel, want sy kon ons uithelp met die wegneem en hervestiging van die bye. Hess wag vir ons en ons sloer want die bye het verdriedubbel of dalk dubbel dit! Ek loer elke dag versigtig en sien net hoe die huisie begin boep staan en uit sy nate begin bars.
Nou moet julle ook weet, dat die huisie eintlik al gesloop moes word so 5 jaar gelede. Toe ons hier ingetrek het het dit cute gelyk en niemand het 'n gedagte gehad om dit gou te vervang nie, want nie eers die voëltjies het gedink dit is 'n gepaste tuiste vir hulle nie. Dus staan dit toe vir die jaar leeg - tot die bye nood had. Soos ek elke dag loer, sien ek die huisie kantel effens gevaarlik na die linkerkant, maar sien ook dat dit "stewig" vas geskroef is aan die onderkant. Dus, bel ek vir Hess. Die bye is reg vir oplaai. Ons sal dit toe maak met 'n groot sak en afhaal van die paal waarop dit gemonteer is sodat sy die bytjies net kan kom laai en 'n waardige huis gee.
Wat is my verrassing groot toe ons in die skemerte, terwyl dit heerlik sous ( en natuurlik die huisie nog meer aftakel) die huisie probeer losskroef van die paal, dat 'n verkenner by uitkom en my so in die oge kyk (eintlik die flitslig) en dadelik teruggaan en al sy makkers uit die huisie oproep. Hulle was boos. Ek en Joseph (tuinman) hol dat ons bene kort word met sulke hol gebuigde rûens, en ja, ons het woes geskreeu. Dit sou enige Tarzan en Jane roepe na 'n gefluister laat klink het. Die bye wil nie gepla word nie. Hulle is ook nie happy nie. Bye vlieg tog soms in die reën as dit moet ;-)
Donderdag oggend loer ek vinnig of die byekindertjies nog happy is, en sien die donnerse huisie het na al die reëns en wind besluit, om die gees te gee. Die huisie se vloer is nog vas aan die paal se bodem en daar lê dit, op sy kop met die groot opening wat na die hemele staar. Bye is kwaad, verward, en soek iemand om seer te maak. Ek sluip weer terug in die huis en loer hoe hulle toi toi in die tuin. Ek hoop so in die stilte dat die bure nie vandag tuinwerk wil laat doen nie, want die byehuisie sonder 'n vloer, is byna by hulle hek. Ek laat weet vir Hess om so bietjie te wag totdat ek dit kan uitsort nadat ek vir haar gesê het sy kan enige tyd hier uitval vir die bye. Maar die bye wil my nie toelaat om uit te sort nie. Aikona. Ek sien al in my geestes oog hoe ek in die straat afhol, helemaal bedek met bye wat moerig is.
Saterdag, probeer ek weer. Gideon is nie hier nie. Ek sien hulle gluur my so vyandig aan. Iemand moet gestraf word vir die omgevalle huisie. Die kinders moet binnenshuis bly, want as ek gil moet hulle die speeddial druk. Weerens geen happiness nie. By se kind is op die oorlogspad. Sondag dieselfde modus operandi, met dieselfde resultaat. Dat ek nie kan agterkom dat my planne nie werk nie, is ook 'n ander saak ( - geen kommentaar hieroor sal geduld word nie. Sela) ;-)
Ek en Gideon gaan toe so ewe grand Maandagaand na 'n funksie, net voor ons gaan, loer ons om te kyk of die bye darem so bietjie gesettle het. Jip, hulle lyk rustig. Ek maak alweer planne vir die volgende oggend vir by se kind. Slaap rustig en verslaap die volgende oggend. Moenie gaan party in die week nie, verslaap is jou voorland. Dinsdag oggend draf my kort beentjies vinning na buite - bye sal vandag uitgesort word. Maar die huisie is leeg. Niks, Zilch, Zero bye. Wens ek kon sien toe hulle wegswerm! Die middag bel Hess. Ek voel of ek 'n doodstyding moet oordra .... Hess verstaan en gee my raad oor hoe om die heuning te tap en uit te kyk vir klein baba bytjies dalk nog teenwoordig. Hoe om die was te smelt oor 'n lae hitte en dan kan ek byewas kerse maak ens ens. Ek voel nou nie meer so aaklig oor ek die bye in die steek gelaat het nie. Ek kan darem iets van hulle oorhou. Draf weer na buite en lig die huisie op om die binnegoed te inspekteer en doen toe maar weer 'n Tarzan en Jane klankie net daar en dan. Die huisie val oop, maaiers het die binnerkant van die vrot hout en die koeke oorgeneem. Ek kon nog klein bytjies sien, en daar was nog 2 volwasse bye wat iets probeer red het. Al die heuning was weg, alles leeg. Die maaiers was die skuldiges sê ek vir myself, nie ek nie. Dit laat my nie beter voel nie. Maar, was die bliksems daar in die vrot hout voor die tyd, of toe die bye begin reg maak het vir vertrek? Die 2 volwasse bye is toe ook vort, en ek gryp die Doom en dood alle bewegende wesens in die vrot huisie. 'n Geween en 'n gekners van tande tyd.
Besluit ek moet net gou kyk dat die honde ok is, en dat hulle nie voor in die tuin kom nie. Doen toe maar weer vir Jane van Tarzan na, maar die keer 'n bedonnerde kreet, Shaina het sowaar die taak op haarself geneem om nog 'n hadida te dood. Sy kyk my trots aan en ek verbeel my ek sien 'n "I am getting stronger and better" kyk van haar. Ek is boos en hartseer. Wat de hel gaan aan in my tuin? Ek gaan 'n bordjie op sit wat lees:
GEEN BYE EN HADIDA'S VEILIG IN DIE TUIN!
OP LAS!
WEES GEWAARSKU!
STAY AWAY! (vir engelse bye en voëls)
Nog 'n donker dag vir voëls en bye in Gauteng
Iemand wat julle nie ken nie
Anoniem
Incognito
Alias
Vreemdeling