Was ek vandag nie bitter ontsteld en kwaad vir ons Husky, Shaina, nie. Nou weet ek baie mense hou nie juis van Hadeda's nie, maar ek vind hulle fasinerende voëls. Hulle kuier gereeld in my voor en agter tuin. Hulle het so mak geword dat hulle reg voor ons honde verby stap en selfs soms gaan ondersoek instel het by die hondebak ook. Hulle gaan rustig voort met hulle pik-pik as ek met my kamera in die tuin rondsluip. Geen pyne nie. Dit gaan nou vir maande so en ek glimlag en dink, ai hoe mooi.....hoe wonderlik is die natuur en hoe nice dat voëls en honde en selfs ek, die erf so onselfsugtig kan deel. Tot vandag toe.
Doen ek vanmiddag my rondtes om te sien of Honde genoeg vars water en kos het, sien ek die "Groot Geveerte" kloue/pote in die lug lê. Vere net waar jy kyk. Weet julle hoe groot is daai Hadeda? Thanks Giving Plus Size! Huil ek my hart uit, hoe kon die hond dit nou loop staan en doen! Dan wil sy nog so wraggies waar verder met die Gesneuwelde Geveerte speel! Sy het Gesneuwelde Geveerte, tien teen een ook dood gespeel en gedink dit is 'n lekker speelding! Ek wou toe die Geveerte na 'n beter laaste rusplek as die op ons grasperk help, en wat sal ek sien? Net so om die draai lê daar nog 'n Gesneuwelde Geveerte, die keer wel kleiner, (Indian Minor) maar toe bars ek met my diepste brullende geskreeu los.
(Ek glo mos nou stoute honde sal skrik vir 'n diep kwaai (let wel - kwaai) manlike stem) Nou ek het nou nie juis n diep stem nie en is ek ook nie 'n man of 'n Castor nie, maar brul het ek gebrul! En skreeu het ek geskreeu. Stoute bliksem. Ek wou nog die ene afneem! Hy het 'n mank pootjie gehad en ek het hom/haar (weet nie) Horrelpoot gedoop. Shaina staan daar en gee my 'n kyk van " vir wat skreeu jy dan, ek het mos die jackpot geslaan vandag! Kyk hoe mooi lyk die grasperk dan getooi in vere - groot en klein! Trots op haar hande werk, die Merrie!
Sy het nie eers geskrik vir my "diep skreeu" nie. (sal regtig moet werk daarvan maak en oefen) Nadat Horrelppot en Indian Minor meer eervol weggedoen was, sal sy nou nie wragtig die duiwe wat rustig doer op die ver punt van die tuin sit en kossies pik, gaan rondjaag nie!
Die "vrede" is versteur in my tuin! "n Donker dag vir voëls in Gauteng! Ek wou nog 'n voëlbad ook daar sit sodat al die baie voëls wat so "veilig" in ons tuin voel, kan kom bad en water drink. Nou sal ek seker nie meer dit kan doen nie. Geveertes orals sal mos nou weet van die "Vreeslike Voël Vanger van Kempton Park" en dit sal nou net 'n wit olifant word in die tuin!
Dalk moet ek tog die voëlbad daar plaas, ter ere van Horrelpoot. Horrelpoot het glad nie 'n kans gehad nie. Horrelpoot sal verstaan. Cheers ou Grote!
No comments:
Post a Comment